Perdeby

Ek sê altyd eks bang vir niks, behalwe koringkrieke, honderdpote en perdebye! Die eerste twee is net grillerig. Flippen hel, Bear Grills vreet die ander dag ‘n koringkriek op Ultimate Survival. Ek weet nie hoe hy die ding nog kon vashou nie, maar toe hy hom byt, spuit die stront so groen boog. Ook maar goed sy oë was toe, anders sou hy ook ‘n kat geskiet het. Ek’t amper ‘n otter met ‘n vel pet gebaar, sies ga! ‘n Perdeby aan die ander kant is ‘n ander kalant, hy’s alkant skerp. Hy het so punt-te-nerige gesiggie met sulke alien oë van voor, en van agter ‘n angel skerper as Maraai se tong.

Ek weet nie of ‘n perdeby jou al gesteek het nie, maar dis kak seer! En as jy voel die dubbel K, middel A woord hierbo is dalk bietjie kras en oordrewe, wel, dan weet ek versteek seker dat ‘n perdeby jou nognooit bygekom het nie! Hy hou aan steek tot hy besluit het, genoeg is genoeg. Gewoonlik teen daai tyd is jou broek lankal bruin, jou oë toegeswel en jy brand ‘n soort brand wat net die rooi duiwel (van die kinder bybel) se vurk kan veroorsaak. Niks help ook vir die pyn nie, jy kan die gloeiende steekplek maar smeer met al wat ‘n doepa en samboksalf is, hy sal brand tot hy besluit het hys moeg.

Op ‘n dag stuur my oupa my om te gaan turksvye pluk. Ge-“gear” met ‘n lang bloekom stok wat ‘n blikkie vooraan vasgemaak gehad het en my Swiss army knife (wat ek vir kersfees gekry het) sit ek toe die stukke af na die pers turksvy bos toe. Ek het net begin pluk toe sak daar een van daai groot blou-swart perdebye soos Batman op my toe.

Dit was asof die boosheid homself op my neergedaal het. Ekt eers net gewaai en geswaai met die arms, maar toe klap hy my op die voorkop. Dit voel rêrig asof iemand jou met ‘n bloedrooi kool brand. Ek het net so ligte draffie begin ontwikkel, toe die tweede skoot val! Dit het gevoel asof iemand my met ‘n vuis in die gesig slaan.

Toe weet ek, nou moet ek hardloop of anders word ek vandag dood gesteek. Met ‘n baie hoë skril “eina fooook” kon jy net hakskene en kalahari stof sien soos ek gat skoon gemaak het. By die huis moes ek vol snot en trane probeer verduidelik hoekom my gesig so dik geswel was. My krismis knipmes lê nou nog iewers verlore in die rooi sand!

Die tweede naweek in Februarie 2014 is ek en die familie bietjie Witsand toe vir ‘n lekker naweek van visvang en ontspan. Die wekker was gestel vir vroeg die Saterdag oggend en na ‘n koppie koffie en beskuit is ek af water toe. Ek het vinnig’n paar harders met die gooinet gegooi en so teen 6uur was die lyne in.

Terwyl ek staan en wag vir die katrolle om aan die skree te raak sien ek toe ‘n reën spinnekop wat rustig oor die sand aangestap kom tot reg teen die rand van die water. Hulle pla my nie veel nie, hulle lyk baie intimiderend met hulle lang harige pote, maar is heel skadeloos. Ek wou nog my foon uithaal om die agt potige gogga af te neem toe daar van nêrens af nie, ‘n swart perdeby met sulke helder oranje vlerke op hom toesak. Hyt amper soos my kleintyd vrees gelyk, maar met nuwe “mags” op. Na ‘n vinnige geveg het die perdeby sy angel in die spinnekop gesink en kon jy sien hy het verloor en is besig om te gaan.  Nadat hy gevrek het, het die perdeby hom aan die poot gebyt en begin om hom weg van die water te sleep.

Ek kon dit nie glo nie, dit was soos om een of ander BBC dokumentêr te kyk, al wat gekort het was David Attenborough wat met sy rustige stem die hele toneel beskryf. Ek het gedink wat ‘n voorreg dit was om so iets te kon aanskou en hoe wonderlik die natuur is. Toe besluit ek, wag, ek moet darem ‘n foto van die storie neem. Maar ek is mos hoeka skrikkerig vir die angel  manne as gevolg van my traumatiese ondervindinge kleintyd.

Die perdeby was ‘n vurige karakter en het my herhinner aan ‘n liedjie wat ons altyd in Lambertsbaai om die vuur gesing het, “My vlêrtjies is van goud en my angel is van staal, o, ek het gekom om jou heuning uit te haal” (op die maat van “Ema Kalema”). Terwyl ek die liedjie “hum” het ek so 3cm nader geleen, die zoom tot die maksimum gestel en so paar foto’s geneem. Ek kon egter nie die water in die agtergrond inkry nie en het toe besluit om op my maag te gaan lê vir ‘n meer idiliese kiekie. Ek was bietjie te vêr van die natuur toneel en het so effe nader ge-“leopard crawl”. Foon in die hand, met my arms voor my uitgestrek en met Ema Kalema in die hart het ek reg gemaak vir die Veldfokus foto van die jaar…

Die volgende oomblik besluit die blêrrie ding om voordeel te trek uit my kwesbare horisontale posisie en hy pyl reguit op my af! Ek weet nou nog nie, of hy gedink het ek wil dalk ‘n happie vat van sy harige trofee en of ek net te naby aan sy “ora” gekom het nie. Of dalk het ek net soos ‘n lekker vet reën spinnekop op my pens gelyk? Sakie makie, die ding dink toe dis tyd om my te bevlieg, letterlik.

Ek sweer, die klanke wat uit my mond uit gekom het… dis “embarrassing”. Hoe ek regop gekom het weet ek nie, maar die foon is links en ek is regs en met ‘n geklap en geskop het ek twee keer 360 grade gedraai voor ek grond gevat het.  Ek het tot iewers hardop na my Ma geroep! Van groot man tot kind in ‘n breekdeel van ‘n sekonde. Gelukkig het ek met die wilde geswaai hom darem so skrams getref en daar gaan sit toe op my vis stok so 5 meter van my af, met die dooie spinnekop in die middel van ons twee. Ek wil by my stokke, hy wil by sy kos, nou wat nou?

Daar begin ons toe ‘n “stare off” met ek wat opkyk na hom en hy wat neer kyk op my, al het hy net 3 voet van die grond gaan sit. Na so minuut kon ek nie meer nie en moes ek maar wegkyk, terwyl ek stadig geretireer het sodat hy sy prys kon kom haal. Hy het rustig neergesak, sy trofee aan die poot gegryp en begin om hom weg te sleep. Ek het net daar opgepak en na ‘n nuwe plek geskuif…

Later die oggend het ek darem ‘n kabeljoutjie gevang en die trauma van vroeër die oggend was, amper, vergete!

Gaan julle goed!

BV

(Ek het later gelees dat die “spider wasp” se gif net die spinnekop verlam. Daarna sleep sy die verlamde spinnekop na haar nes sodat haar larwes lekker aan vars kossies kan knibbel)

IMG_0369
Ietsie om my te laat beter voel

5 thoughts on “Perdeby

  1. Hi Blikkies,

    Het die storie geniet en mooi kabeljou, was vroeer die jaar self weer gekwets deur een en die pyn raak nie sommer makliker as jy ouer raak nie.

    Groete

    Liked by 1 person

    1. Hahahaha! Ek lag nie vir jou nie, ek lag saam met jou! Mense wat nog nie deur een bygekom is nie, verstaan nie!
      Thanks vir die comment, gaan jou goed! BV

      Like

  2. jis ekt nou lekker gelag. Love jou skryfstyl! Bly jy kon darm die dag op n goeie noot eindig. Ek is ook bang vir niks, maar n koringkrieg, oh donner nee. Daai goed moet net weg bly! Ek het wel ook nog nie n ongerieflike ontmoeting met n perdeby gehad nie. Mag jou trauma jou gou verlaat hehe.

    Like

    1. Hi, dankie man! Ja eks maar ‘n begin blogger en wou aan die begin net visvang stories skryf. Maar nou gooi ek sommer ‘n paar random goed tussen in ook. Ekt so bietjie op jou blog rondgekrap… Very impressive, ek love jou styl! Gaan jou verseker volg. Cheers BV

      Liked by 1 person

Leave a comment