Weskus Woorde

Ek sê altyd ek het leer praat aan die Suidkus en leer vloek op die Weskus. Die weskus is ‘n unieke plek, daar is niks, maar tog is daar alles. Die mense maak dit, hulle lyk anders, doen goed op hul eie manier en hulle praat ‘n soort taal wat jy moet hoor om te glo. Wat meeste mense as vloek beskou is maar net nog ‘n woord om iets of eimand te beskryf. Wat oë laat rêk en koppe laat draai in ‘n Joburg koffie winkel, kry nou nie eers ‘n veer gelig in Veldrif nie.

Maar die plek bekruip jou en klim in jou hart sonder dat jy dit besef. As jy weer sien, knaag jy aan ‘n bokkom en sluk die sout smaak met ‘n dubbel en coke af. Die oomblik van waarheid, wanneer jy besef jys nou deel van die Weskus, kom gewoonlik wanneer jy jou eerste GROOT vloek woord gebruik. Wanneer daai fokker by die mall voor jou indraai en op jou plek stop, dieselfde plek waarvoor jy al 5 minute lank wag, waar jou flikker eerste aan was. Jy wil nog jou tong byt, maar sonder dat jy dit kan beheer spring daar ‘n woord by jou mond uit. Die wagte voor jou lippe wil nog keer, maar dis te laat. Die weskus lug het hulle verlam en met een groot knal val die P-bom! Jy skrik vir jouself en gryp na jou mond so asof jy die woord wil terug druk. Terwyl jy verward ‘n onverskonings gebedjie prewel dryf die woord deur jou voorruit die Weskus in. Jy probeer dit regverdig, “hy’t dit verdien”, sê jy vir jouself. Jy voel skuldig oor die woord, maar nog erger, oor jy dit geniet het. Dit was soort van lekker en jy voel sommer beter na die monds ontploffing. Dan drop die penny… jy’s ‘n visvoet!

Ek gaan probeer om die bekendste Weskus Woorde te beskryf en te omskryf, sonder om hulle fisies te sê. As jy dit dink en in jou kop sê en dit nie oor jou lippe spoel nie, dan is dit mos nie vloek nie. Iemand moet tog eendag vir my verduidelik wie het besluit die woorde is vloek woorde en hoekom dit verkeerd is. En, is die algemeen aanvaarbare kak, doner, moer en bliksem dan minder sondig as die GROOT vloek woorde? Want, sê ek mos, as altwee ewe verkeerd is, hoekom gaan jy dan nie maar vir goud en drop eerder ‘n paar bomme nie. Anyway, dis ‘n “topic” vir ‘n ander dag…

Net na st6 het ons getrek van George na Lambertsbaai en my growwe taal opvoeding het sommer dadelik begin. Die buurman het oorgekom homself aan my pa voorgestel, so na my gekyk en met ‘n smile gevra, “En wie is die etterkop?” Ek het bietjie aanstoot geneem maar later geleer “etterkop” en “trilkop” is dieselfde ding en sommer maar net woorde, en ‘n grappige manier om iemand aan te spreek.

Die woord “etter” gril my nogsteeds, dis seker die lelikste woord wat in ons taal bestaan. Of dalk is dit maar net ‘n “nerve” wat nog nie herstel het na daai eerste ontmoeting met ‘n weskus visterman nie. Dis nie eers ‘n vloekwoord nie, maar ek sukkel om dit te sê. As jy nou rêrig iemand wil slegsê dan noem jy hom ‘n etter. Maar hy kry eintlik meer slaankrag as ‘n man wat brei hom sê, soos in, “daai Snoggrre is ‘n slêg etteggrrrr uit die diep blou see”! Dis laer as slangkak op die seebodem…

Die “N” woord is alom bekend en word ook gereeld rond geslinger. As jy lank oorsee was en jy voel jy het jou mense gemis, gaan hang so vir ‘n uur op ‘n Saterdag middag by ‘n weskus dorpie se “off sales” rond. Man dis ‘n rooskleurige geklets. Later raak dit net ‘n geskêl en die een bom val na die ander met die “N” woord voor in die koor. As een jou nie die R5 wat jy “short” om ‘n papsak te koop wil las nie,  dan kan jy hom vinnig uitsort met ‘n loop “N”! As jy hom wil sleg sê oor hy jou papsak uitgesuip het, is hy ‘n nat “N”!

Op ‘n dag loop ek om koerante te gaan optel by Standard bank (die hele dorp s’n was sentraal op die bank se stoep afgelaai). Op die hoek van die straat sit twee opgeskote klonge. Die een sê vir my, “hoezit my bru!” Ek andwoord hom met ‘n ongeskikte, “man eks nie jou broer nie!” en loop verby. Nadat ek die koerante gekry het stap ek weer verby die twee. Die ander een sê, “goeie more meneer”! Ek stop net daar in my spoor, draai na hom en sê, “goeie more jong man”. Terwyl ek wegstap hoor ek hy sê vir sy boetie, “sie djy, so praat ons beskaafte mense mos met mekaar… djou “N”!

Dan is daar natuurlik die regte vloek woorde, die “PKD” woorde. Woorde so reguit van ‘n vis troller af, plofklank woorde. Die “P” woord word nie verniet die “P-bom” genoem nie. As jy een van die PKD’s genoem word moet jy weet jy is nie ‘n lekker bra nie, of jy het iemand vreeslik die hel in gemaak. Soos in, Justin Bieber is ‘n regte klein “P”! Dis gewoonlik slegsê woorde, maar kan ook gebruik word om ‘n situasie te beskryf. Gewoonlik word dit dan altyd in die oordrewe vorm gebruik. “P”, word die meeste gebruik, “K”, die minste en “D”, die maklikse. Seker maar omdat dit ‘n ou woord soos karton en tontel is.

As iets “P” lekker is, is dit ongelooflik. As dit “P” koud is dan weet jy, jy is besig om jou lippe af te bewe. Dit laat my dink aan die sms wat altyd rond gaan in die “sneeu op die berge” maande… Winter deur AG Visser… Dis “P” koud! In Nederlands beteken dit kat. Ek weet nie, maar iewers was Matewis in ‘n helse misverstand betrokke, want dit beteken iets heeltemal anders in Afrikaans!

Eendag loop Kat Mielies (hy het altyd as ons snoek vang gesing, gooi mielies, gooi mielieeeees… dit was hoeka snoek tyd, en hy was vol geld en vol wyn). Anyway, so slinger-loop hy die straat af en iemand roep hom, DJY! Kat het net aanhou slinger. Weer skree die man, DJY! Kat slinger voort. ‘n Derde keer skree hy, DJY, maar voeg die keer by, DJOU “P”! Kat swaai om, slet amper neer, en sê vreeslik verontwaardig, “wies DJOU, DJY”!

Terwyl ons aan die stories vertel is… Koos die ambulansman kom by die huis en sê vir sy vrou, “Pak in, pak in, pak in!” Hoekom wil sy vroutjie weet? Nee, sê Koos hy het vandag die finale ambulans eksamen afgelê en dit was baie maklik, net een vraag, en hy gaan nou ‘n verhoring kry en ‘n groter karavaan. Wat was die vraag, wil sy entoesiasties weet? Nee, sê Koos, baie maklik, “As jy op ‘n ongeluks toneel aankom en daar lê ‘n vrou bewusteloos, waar voel jy om te weet of sy nog lewe… dis ‘n vier letter woord wat begin met ‘n “P” en eindig met ‘n “S”? Man, maar dit IS maklik sê sy vrou baie opgewonde terwyl sy die klere in ‘n swartsak pak… POLS!  Koos het haar so gekyk vir ‘n sekonde, sy oë twee keer geknip net om seker te maak hy het reg gehoor, toe sê hy, “Pak uit, pak uit, pak uit!”

Die “K” woord is seker die lelikste een van die drie. Eintlik is dit ook maar net omdat hy die minste gebruik word, hy is nie so afgestomp soos sy “DP” boeties nie. In Nederlands beteken hy gat, agterstewe, of sommer hol. In Nederlands sou Saartjie Baardman ‘n groot “K” gehad het. Hoe weet ek nie, maar iewers in die laaste 500 jaar het die woord tussen die klomp Kaaskoppe en Harry en sy strandlopers en wyn en aaptwak met so 5cm vorentoe geskuif.

Dit was sinne dag in die Afrikaanse klas op Lambertsbaai en die juffrou sê die kinders moet ‘n sin maak met die woord, konsekwent. Jannie spring op en sê: “My pa raas elke dag met my boetie maar die kontsekênt wil nie luister nie”!

Die “D” woord is die een wat die meeste gebruik word en seker ons grootste skenking aan Engels. Niemand kan die woord so mooi uitspreek soos ‘n soutie wat die moer in is nie. Die woord word gewoonlik gebruik as jy iemand wil beskryf wat iets baie “stupids” aangevang het, Die Dom “D”! Of as iemand hopeloos te veel gedrink het kan hy ook as “D” Dronk beskryf word.

Jannie kom by sy ma en vra, hoe spel mens boks? Nee Jannie sê sy ma, ons praat suiwer Afrikaans, boks is ‘n anglisisme, gebruik eerder die woord, doos, D-O-O-S, spel sy dit vir hom. Die volgende dag kom Jannie hoogs ontsteld by die huis aan omdat hy pak gekry het vir geen rede nie. Baie besorg wil sy ma weet wat gaan aan. Hy sê toe hy het net ‘n opstel oor sport geskryf. Terwyl Jannie se ma besig is om die skoolhoof te bel begin hy lees, “Ek hou meer van doos as van stoei”…

So loop hy ma!

Cheers

BV

611002965

14 thoughts on “Weskus Woorde

Leave a reply to blikkiesvis Cancel reply