Misverstand op Misverstand

Ons het besluit ons moet ‘n slag gaan kyk wat swem in Misverstand dam. Na ‘n bietjie navorsing en rondvrae het ons twee regte pap swaai visse in gedagte gehad. Karp en Baber sou daar gevang word. Al was dit middel Augustus en nog vrek koud in die aande het ons besluit om te kamp. Meer as kamp kon ons in elk geval nie bekostig nie. Die opsies was, rondawel en papsak of tent en brannewyn. Gelukkig was die kampplek darem teen die water so jy kon sommer uit jou tent uit slurp aan ‘n vuil coke terwyl jy een oog op die stokke hou.

Ons het Donderdag na werk uitgeval die bakkie gepak en die stikke ingesit na Misverstand toe. Dit is van Stellenbosch na Malmesbuggry, dan Mogreesbugrr en so dgriekwagrt oppad na Piketbegrg, net na die Misvegrstand bgrug bogrtjie, dgraai jy gregs (ok ok genoeg gebgry). Dan is dit net ‘n paar kilometer grondpad tot by die oord.

My tanne het al geswem van Malmesbury af en teen die tyd dat ons by Morreesburg verby was, was al wat ek stadig kon sê: “Nou’t ek ‘n is soos ‘n erd”! Met die grondpad se gestampery wat oppad was kon ek nie meer nie en moes ons eenvoudig eers ‘n pitstop maak.

Die heel pad het ek geknyp terwyl ek treur oor ‘n meisie (Margeret) wat my gelos het vir ‘n ander bra (Chris) met ‘n graad en geld. Sy jaag net geld en status het ek gemoan. Dit was hoeka een van die redes dat ons besluit het om te gaan visvang. Om bietjie van die hartseer te vergeet en weg te kom van die vreeslike stresvolle studente lewe. Daar is niks wat ‘n kop  kan skoonmaak soos ‘n bietjie visvang nie.

So staan ons toe langs mekaar, die wind het gepomp en dit was klaar half donker.  Nou ek weet nie of jy al probeer water afslaan het, met ‘n bier in jou gat, al wiegende in ‘n warrel wind, sigaret in die een hand, bier in die ander en jou… wag, “pause”… Met ‘n sigaret in die mond, bier in die een hand en ‘n koggelmander in die ander (bloukop nogal). Dis ‘n dilemma van epidermiese proworsie!

Ek gaan dit nou maar sê soos wat dit gesê is… Ons het so gestaan en blaas verlig toe sêg ek vir Donovan: “Daar is twee goed wat my afpis. Die een is Chris en Margeret (nie hul regte name) en die ander, jy wat teen my been pis… ” Misverstand nr 1!

Teen  agt uur was my been skoon, die tent orent en die vuur het gebrand. Glad nie sleg vir manne wat eers  vyf uur uit die Bosch is nie. Die wind het ook teen die tyd al gaan lê en alhoewel dit kouerig was, was dit ‘n baie mooi aand. Omdat mense eers oor die naweek opdaag was dit net ons en die dam. Ek, Donovan en die natuur, heel romanties.

Die grootste gesukkel was om lyne in die water te kry. As ‘n man so rustig agteroor lê in ‘n Camp Master stoel met ‘n dubbel in die hand en jou voete teen die vuur, is dit darem baie moeite om stokke reg te maak. Maar dit was ‘n visvang trip so ons het gou ons luigeit afgeskud en die mieliebom aangemaak. Rietvlei strop, ‘n floatie bo, enkel mielie pit onder en perdeby op die bol… Ja, ek kan lekker Karp praat as ek wil, OU pap swaaier.  Uiteindelik was die stokke gegooi en kon ons verder plak terwyl ons gewag het vir die visse om te byt.

Die visse wou niks weet van eet nie en ons moes al wat ‘n “mutie” is probeer om hul aandag te trek. ‘n Man begin mos eers konserwatief met enkel geure en jy gebruik net jou gunstelinge, die wat gewoonlik ‘n trek kry. Maar as dit nie werk nie begin jy mos eksperimenteer. Ons het als probeer van Duiwelsdrêk en Drop, Brannewyn en Boegoe tot Kruisement met Karamel, maar niks het gewerk nie. Later het ons uit desperaatheid sommer TCP mielies gedip in Sprits en dit sommer so skoon gegooi, fokol bol! Maar niks makie. Ek moet sê, die visse se onvermoë om te byt het ons nie te veel gepla nie. Hoe stiller hulle was hoe joliger was ons.

Dit was seker so een uur die oggend toe ons iets in die riete hoor. Ewe skielik was ons tjoepstil, en het half verdwaas gestaar in die rigting van die ritseling. Ek het net ‘n week terug die fliek “The ghost and the darkness” gekyk wat oor twee mensvreter leeus gaan. En daar sit ons toe en die riete maak ook nou soos wat die grassies gemaak het as daai twee maanhare deur die veld hardloop. Dit was asof iemand ons dophougehou het, die hare op my nek het regop getrek.

Die volgende oomblik kom daar ‘n mase swart ding reguit op ons afgehardloop. Al wat ek kon doen van die skrik was om agteroor in my stoel te val, my arms en bene op te trek soos ‘n stokstert meerkat en in ‘n skril stemmetjie te skree: “o jirre”! Ek sweer ek weet nou nog nie wie die grootste geskrik het nie. Dit was ‘n groot otter, en ek bedoel “huge”!

Gelukkig was Donovan meer aanvals gereed en hy gryp toe die byl terwyl hy self kliphard skree. Die otter, wat meer soos ‘n groot donker spook gelyk het, het net daar tot stilstand gekom en ons net staan en kyk. Ons het nie geweet of die ding hondsdolheid of iets gehad het nie, so ons was maar versigtig. Hoekom anders sou hy dan sommer so na ons toe aangehardloop gekom het? Na ‘n sekonde of ses en met die motivering van ‘n paar vlieënde “mutie” bottels en ‘n byl het hy gelukkig besef ons is te veel. Hy het rustig omgedraai en in die donker nag verdwyn. Misverstand nr 2!

Na alles kalmeer het en ek sommer ‘n paar skoon slukke gevat het, kom Donovan toe met ‘n blink plan. Hy vertel my dat in Welkom as die vis nie byt nie maak hulle ‘n degie met Vicks (ja, Vaporub) en bruinbrood. Dit het maar vir my soos ‘n draak stekery geklink maar ek’t gedink ons het niks om te verloor nie. As TCP en brandspiritus nie wil werk nie, probeer ons maar bors salf. Ek praat nou nie nonsens nie, daar vang ons die een vis na die ander! Ek kon dit nie glo nie. Wie het nou gedink ‘n Karp hou nie van ‘n snot neus nie.

Aan geselskap het ons nie ‘n tekort gehad nie. Daar was ‘n random gans wat die heeltyd ons brood wou steel. ‘n Kamp kat wat nie wou stil staan vir ‘n kiekie nie en ook nie homself laat vang het vir ‘n foto nie. Ricky Louw (Richelieu), hys nou ‘n nice ou, en die flippen otter. Ons het sterk gestaan, maar toe die ryp so wit op die gras sit het ons besluit dis tyd om te gaan lê. Na ons die vuur dood gegooi het was dit ewe skielik vrêk koud. My tent het ek by die huis vergeet so ons deel toe maar Donovan se baie klein twee man tentjie.

Daar is niks so lekker soos om wakker te word in ‘n “spoon” met ‘n lekker meisie nie! Maar daar is ook niks so ontnugterend soos wanneer jy besef die meisie wat so lekker “spoon” is eintlik jou visvang buddy nie… Het jy al gesien hoe lyk dit as jy ‘n kat bekruip en hom skielik skrik maak? Dit was omtrent soos ons gespring het toe ons agter kom ons snoesige omhelsing is met mekaar…  Misverstand nr 3!

Ja, ek was die groot lepel maar dit beteken absoluut niks man. In my “defence”… Was jy al op ‘n plaas? Het jy al gesien hoe spring die koeie partykeer op mekaar? Nou maar dit beteken dat ‘n koei is reg om gedek te word. En… en, dis die koei wat spring en die koei wat gespring word wat reg is. Want jy sien, sy laat toe dat sy gespring word. Wat ek probeer sê is, die groot lepel is net so skuldig soos die klein lepel…

Vir die eerste deel van die oggend het maar mekaar probeer vermy. Oogkontak veral was ‘n “big no-no”! Tot so tien uur toe ons die eerste bier oopgemaak het. Gisteraand was lekker sê ek. Ja dit was sê Donnie. Cheers!

img_1582
‘n Vicks Karp
img_1600
Donovan het darem ook iets gevang
img_1594
‘n Random gans wat heel tyd ons brood wou steel
img_1611
Stokke gestel

 

 

 

4 thoughts on “Misverstand op Misverstand

Leave a comment