Doom Profeet

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie… Daars ‘n priester (prophet Lethebo Rabalago) wat mense van sy gemeente (AK Spiritual Christian Church) met Doom spuit om “evil spirits” uit te dryf. Nie toilet spray of Windowlene of Mr Min nie, fkn DOOM pappa! Blykbaar spuit hy sommer vir alle kwale van voetskimmel tot stres stingel… Nou sien ek die nuutste is hy laat sy mense Dettol drink om hulle gesond te maak. Daai goed sal jou maag laat werk, van Dettol tot nathol in drie sekondes. Dis belaglik!

As ek aan Doom dink is daar net een storie, die een wat Tolla van der Merwe altyd vertel het. Dit gaan oor die honeymoon couple wat op Paternoster gaan vakansie hou het. Blykbaar het hulle op die strand gelê en tan toe ‘n klomp sand vlooie hulle pak. En ‘n vlooi het mos ‘n manier om na al wat ‘n donker plek is te vlug, geen kloof is veilig nie. Met ‘n geklap en ‘n skelm gekrap het hulle tot by ‘n kafeetjie getripple. Al wat die man toe uit desperaatheid in die hande kon kry by die “Cafe” was ‘n blik Doom. Met die meisietjie wat skaam krap en rondspring het haar man haar toe strategies probeer spuit met die blik gif. Op daardie oomblik loop daar so opgeskote kreef smous verby, kyk die storie so en sê: “Kyk hie, djy moet nou nie iets vrêk spuit wat djy vannaand weer gaan nodig kry nie…”

Nadat die Doom profeet se gespuitery aan die lug (pun intended) gekom het, het die stories en grappies begin loop. En alhoewel dit ‘n ernstige saak is, bly dit snaaks. Idols judge Somizi het op Titter gespot dat Doom dalk ‘n “cure” kan wees vir “gay” wees. Ek weet darem nie. Doom maak skoenlappers dood, en as Doom skoenlappers dood maak staan feetjies geen kans nie… Ag moet nou nie jou deurtrekkertjie in ‘n knoop kry nie, dis net ‘n grappie!

Mark Lottering sê Doom kan dalk gesproei word vir ‘n “bad hair day”. Ander het gespot dat, dalk moet jy net Doom in jou kar spuit eerder as om petrol in te gooi. Of as jy kleingeld bespuit sal dit in note verander. Stingel vrot (STD’s) het ook nou geen kans nie, een spuit en jys genees. Miskien sal die krappe (crabs) kak, maar ek kan nie sien hoe Doom ‘n vratjie gaan afhaal nie. Dalk die een op Zuma se… neus!

Blykbaar werk dit ook vir “erectile disfunction” of stingel stres. Skokkend, maar ek kan die logika sien. As jy ‘n gogga met Doom spuit en hy vrek dan raak hy mos stok styf… Ek weet van ‘n paar vroumense wat daai dêng eerder sal wil dood spuit as aan die lewe kry. Dit hang net af wat jou behoefte is, Doom is die oplossing!

Allister Coetzee en die bokke het ook nie die skerp gif van die nasie vrygespring nie. Hy wil die bokke spuit en die publiek wil hom spuit. Ek dink spuit kom altyd te laat! Dalk moes ons maar ‘n ander afrigter aangestel het. Dalk moes ons al laankal die Springbok se naam verander het na die Kakkerlakke toe, want kakker kan hulle nie lak nie…  Anyway, dan sal Doom dalk nou gewerk het!

Alles is nie Jan Van Riebeeck se skuld nie… dis Jakobpie se skuld! As hy en sy gat gabbas nie die land so kaal gesteel het nie, was daar dalk minder desperate mense. Mense wat enige iets sal doen om ‘n bietjie verligting te kry van die swaar en gesukkel. Dan sal mense ook beter opgevoed en ingelig gewees het om nie elke stront storie te glo wat ‘n doom profeet hul probeer spin (of spuit) nie. Ek dink Zuma moet bietjie kerk toe gaan, hy kort lankal ‘n bietjie (of baie) spreekwoordelike DOOM!

Hiers ‘n paar van die memes…

 

 

2 thoughts on “Doom Profeet

Leave a comment