Bakvissie

‘n Bakvissie is ‘n giggelende tiener meisie wat nou net begin bra dra het en bloos vir woorde soos “wurm” en “wors”! Maar die stuk gaan nie oor bakvissies nie, dit gaan oor ‘n regte vissie wat gebak is, of gebak gaan word. Ek kan nou nie soos Armand Kaal Kook nie, maar ek kan naak bak!

Blikkies Bak Naak… Nie kaal nie maar eenvoudig. Meeste resepte probeer vreeslik fancy wees en dis ‘n kwart koppie van die en ‘n halwe eet lepel van daai… en Roosmaryn en Marjoram… dis ‘n totale poespas en teen die tyd dat ek klaar gelees is druk ek maar eerder ‘n pak springmielies in die mikrogolf.

Die is basies my weergawe van ‘n eenvoudige vis bak resep met net ‘n paar maklik verkrygbare bestandele.

BAKVISSIE

Bestandele:

Bier – Enige bier, maar dit moet koud wees en dit moet alkohol in hê. Net bakvissies drink alkohol vrye bier. Jy kort teminste ‘n sixpack, 1 vir die “batter” en die ander 5 vir jou persoonlikheid. By the way… “beslag” is nie ‘n woord wat ek gebruik nie. Dis meer ‘n woord vir die tannie wat die pannekoek op die kerkbasaar maak.

Vis – Enige vis sal werk. Jy kry basies drie soorte vis, Boks vis, See vis en Varswater vis.

Boks vis is gewoonlik Hake of Haddock, maar dit kan Haai ook wees… Dis oraait as jy anderkant die Eerste rivier bly. “Valies” dink dis awesome!

See vis is by verre my gunstelling! Sekere vis bak lekker terwyl ander vis weer beter braai. Maar dit hang van persoon tot persoon af. Ek verkies om Galjoen en groot Elwe te braai omdat hul vleis ‘n hoë vet inhoud het. ‘n Jong Kabeljoutjie of ‘n vars Stokvis bak weer bitter lekker. Ander visse soos Snoek en Geelstert is ewe goed gebraai of gebak.

Varswater vis sal ek maar probeer vermy, tensy hy uit Harties uit kom en jy vinnig wil gewig verloor. Ek’t al gehoor seker manne bak Bass (Swart Baars), maar nou ja, hoekom probeer jy nie en dan laat weet jy my hoe smaak hy?

Lekker gebakte vis moet vars wees. As jy gelukkig is om self te vang maak seker dat jy jou vis goed bewaar. Nadat jy hom gevang het moet jy hom so koel as moontlik probeer hou. Ek bedek gewoonlik my vis met ‘n handoek of ‘n baadjie. Maar as dit nie besikbaar is nie begrawe ek hulle sommer in die nat sand. Dit hou die vis koel en keer dat seemeeue hul stukkend pik.

Moet nooit vis koop wat se kop reeds afgesny is nie. Die oë is ‘n “dead (pun intended) giveaway”! ‘n Vars vis se oë glinster nog en is helder. Ou vis se oë is vaal, grys en grou. As hy begin om agteruit te gaan kry hy so bloederigheid in die oog. Dit sal lyk soos wanneer jy 5:00 die oggend by die huis kom na ‘n lang nag. Jy dink jys nog tien-vier maar eintlik is jy in jou tjops!

Bruismeel – “Self raising flower”… Frikkie van die Vaal Driehoek het gedink dis sy vrou se gunstelling blom.

Net een klein pakkie is genoeg. Nie die growwe een nie, die gewone een. Die growwe een is vir mense wat op ‘n dieet is en jy gaan nou vis eet, so jy is reeds gesond.

Fyn sout – So bietjie. Jyt nie nodig om allerhande snaakse goed op jou vis te gooi nie. Vars vis het genoeg geur. Die klomp snaakse spisserye verbloem net die lekker vis smaak.

Olie – Sonneblom, Conola nes jy wil.

Tools:

Mes – Jyt ‘n skerp mes nodig. Hy moet so skerp wees dat as jy jou duim oor die lem vee, jy hoendervleis kry. Kak skerp!

Tang – Nie jou Danville boyfriend nie… Enige kleinerige langbek tang sal werk.

Snybord – ‘n gewone hout bord werk lekker.

Klitser – Draad klitser of ‘n vurk.

Vurk – Jou ma se gewone kombuis vurk.

Drup rooster – Vir oortollige olie om af te drup. Jy kan jou oond rooster gebruik ook. Maar as jy nie het nie maak dit nie saak nie, jy kan die vis net so pak in ‘n bord met handoek rol.

Handoek rol – As jy nie handoek rol het nie kan jy sommer koerant gebruik. Moet asseblief net nie toilet papier gebruik nie. Tensy jy die lig blou span ondersteun en ‘n baber bak, dan is dit ok.

Metode:

Maak ‘n koue bier oop en vat eers ‘n paar slukke!

Maak die besla… amper sê ek beslag! Maak die “batter” aan. Jy gooi die bruismeel en die sout in ‘n bak. Gooi van jou bier by en klits tot jou arm moeg is. Daar moet net nie meer klonte in wees nie. Die batter moet lig wees. Die VISkositeit… my Afrikaanse onderwyser, Mnr VISser (nee rêrig, jy kan dit nie opmaak nie) sou bitter trots gewees het op die groot woord. Anyway (daar kom die rooi pen weer uit), die viskositeit moet basies dieselfde wees as pannekoek batter, dalk bietjie ligter.

Die batter kan vir so paar minute staan terwyl jy die vis reg kry.

As jy vis koop, vra dat hulle hom oordentlik fillet en meeste grate afsny. Vat die vis fillet en trek elke graad uit met ‘n tangetjie. Jy kan die oorblywende grate maklik kry deur saggies met jou vinger oor middel rif van die vis te voel. Dis belangrik dat jy hier konsentreer want glo my,  niks is ‘n groter “party” demper soos jou skoonma wat verstik aan ‘n vis graat nie!

Nadat jy al die grate uitgetrek het, sny jy jou vis in repies van so 2-3 cm. Gooi die repies bietjie sout en laat dit staan vir ‘n paar minute sodat die sout lekker kan intrek.

Maak solank jou olie warm. Jy kan enige diep kleefvrye pan of pot gebruik. Gooi genoeg olie in dat die vis ten minste half bedek word wanneer dit in die olie geplaas word.

Vat ‘n lee Checkers sak. Jy kan ‘n Woolies sak ook gebruik maar dan moet jy met jou pinkies in die lug werk en dit sukkel maar as jy vol hande nodig het. Gooi droë bruismeel in die sak saam met ‘n bietjie sout en skud sodat sout en meel meng. Dan vat jy die vis repies en gooi dit in die sak en skud goed totdat al die vis bedek is met ‘n droë laag meel.

Toets of jou olie reg is. Jy kan toets of die olie reg is deur die vurk in die batter te druk en dan in die olie. As dit rondom die vurk begin borrel kan jy maar weet hys reg.

Stel ‘n “assembly line” op. Ek werk van regs na links. So dis eers die sak met vis, dan die batter, dan die olie en dan die drup rak/bak waar ek die vis pak.

Vat vis wat met meel bedek is, druk in batter en dan in die pan. Ek laat meeste van die batter afloop omdat ek ‘n baie dun lagie verkies. Maar jy kan hom dadelik pan toe vat as jy ‘n dikker kors wil hê.

Gewoonlik is daar plek in die pan vir so 4 of 5 repies vis. Bak hulle dan aan alby kante tot so goud bruin kleur. Dit vat gewoonlik nie langer as 3 minute nie. Hang natuurlik af hoe dik jy jou repies gesny het. As jy onseker is of die vis gaar is, vat jou ma se vurk en steek dit in die vis. As die vurk maklik deur die vis gly, is dit gaar.

Haal die gaar vis uit, sommer met dieselfde vurk waarmee jy getoets het en pak op die drup rooster of in ‘n bak.

Herhaal die proses tot al die vis gebak is.

Dis rêrig maklik!

Jy kan dit bedien met ‘n slaatjie of chips. Hy gaan goed af saam met ‘n glasie wit wyn, koue bier of ‘n G&T!

OK, hoop dit maak sin. My bêk water nou so ek gaan sommer vannaand ‘n vissie bak!

IMG_1100
Lekker vars vissie met ‘n koue craft cider
IMG_5450
Kabeljou fillet. Die grate kan maklik gekry word in die middel rif
IMG_4951
In repies gesny
IMG_6821
Vars gebak! Nom nom nom

3 thoughts on “Bakvissie

Leave a comment