Renetjie en haar “G&T”

As mens so op die strand staan ontmoet jy soms die “random”ste mense en sien jy partykeer die “weird”ste goed. Ek noem dit sommer “random beach encounters” of vir die “purists”… lukrake strand ontmoetings. Hier is een van so bietjie minder as ‘n jaar gelede…

Renetjie en haar “G&T”

Dit was middel Desember en seker so 2:30 die oggend. Met intense konsentrasie was ons besig om aas aan ons hoeke te sit. Lekker kleinerige tjokka-pilchard “combos” vir ‘n stout Kabeljoutjie.

Die strand was stil en donker. Al wat jy kon hoor was die rustige breek van branders wat rol tot teen die kant. Die enigste plek waar jy iets kon sien was waar jou koplig gefokus was. Dis normaalweg wanneer die standaard praatjies loop, “Nou gaan ek ‘n groot vis vang” en “as hy nie aan die aas byt nie, dan is daar nie vis in die see nie”. Salig was ons onbewus van wat in die donker rondom ons aangaan.

Fok my! Die volgende oomblik druk iemand vreeslik opgewonde hul gesig hier in ons verligte auras in en vra met ‘n skielike, dog vriendelike stem, “wat maak julle?” Ek dag Dmitri val agteroor terwyl ek so ligte bokspringetjie gee soos iets wat jy met ‘n .22 gekwes is. Al wat ek kon uitkry was, “Huhhh!!!” van die skrik terwyl ek so gryp-gryp na die tjokka hammer vir selfverdediging.

Ek wou nog slaan toe sien ek nee maar die is ‘n meisiekind en sy is nogal lekker. Dadelik meer gekalmeerd prewel ek, “Sjoe maar jy laat ons skrik”! Terwyl sy staan en lag vir ons let ek op dat sy maar min aan het. Kaalvoet in ‘n skrapse nighty en in haar hand ‘n half glas “happy-go-lucky”. Toe ek so na haar gelaatstrek staar en veral die twee jellytots wat styf teen haar nighty se toppie gespan het, kon ek nie anders as om te dink, haar glas is half vol nie.

“Wat maaaaak julle”, vra sy weer belangstellend. Ek’t bietjie langer gevat om te andwoord want ek moes eers my mond toe maak voor ek kon praat.

“Kry jy nie koud nie”, andwoord ek nog half verdwaas.

“Nie rêrig nie, dis mos somer”, sê sy met vakansie gees in haar stem.

“Ons sit aas aan”, andwoord ek, amper nou net so vriendelik.

“Ek is Rene”, stel sy haarself voor en steek haar hand uit.

“Sorry maar my hande is vol aas”, sê ek en steek toe maar my elmboog uit.

Sy vat toe my elmboog en skud hom met ‘n “aan gename kennis” wat ons altwee laat giggel het. Met die sê my fishing partner hy gaan solank gooi want blykbaar byt die vis! Ek wou ook gaan gooi het maar ‘n man wil nou ook nie ongeskik wees nie.

“Slukkie”, sê sy en bied vir my van die half glas “happyness” aan. Ek’t vir ‘n oomblik geaarsel. Toe voeg sy vinnig by, voor ek “nee dankie” kon sê, “dis ‘n G&T”! Nou wie gaan nou nee sê vir ‘n G&T, 2:30 in more op die strand vanaf ‘n lekker vriendelike meisie in ‘n nighty? Wie?

So staan ons toe maar ‘n rukkie, slukkie vir slukkie en kuier tot haar “boyfriend” ons onderbreek. Ek kan nie sy naam onthou nie maar hy was nie heeltemal so vriendelik soos sy ”girlfriend” nie. Hy het duidelik ook nie koud gekry nie want hy was in ‘n PT broek en ‘n wit frokkie. Anders as ons gekultiveerde G&T drinkers was hy duidelik ‘n brannewyn man.

Renetjie vertel my dat hulle het saam met vriende by die huis gekuier en toe besluit om bietjie op die strand te kom stap want dis so amasing aand en die lewe is ‘n lied en, “jy weet mos, you only live once”.

“Wife beater” het net staan en knor maar toe hy ‘n woord in kry, sê hy dadelik sy moet kom want dit raak laat. Net daar spring sy op sy rug en daar gallop hulle toe weg die donker nag in. Sy het darem vir oulaas omgekyk en vir my gewaai.

So vinnig soos sy verskyn het, so vinnig het sy verdwyn. Al die soet van die G&T was weg en in my bek was net die bitter smaak van quinine oor. Ewe skielik was die strand weer stil en donker en alleen.

Na ek my stok uiteindelik weer in die water gekry het, gaan staan ek by Dmitri en sê, “Ek wou nog vir haar gesê het, my vrou se naam is ook Rene”.

 

 

2 thoughts on “Renetjie en haar “G&T”

  1. Man, ek het hierdie storie van jou nou geniet. Goed vertel. Ja, hierdie goed is brandhout vir oudag se onthouvuur. Eendag, wanneer jy my jare begin bereik, is hierdie herinneringe die dinge wat jou hartklop warm en op koers hou.

    Like

Leave a comment