Kwaaimans

Ek was bevoorreg om in George groot te word, ons het eers einde st6 Lambertsbaai toe getrek. Sê altyd ekt geleer praat in die suidkus en geleer vloek op die weskus. Maar die is gelukkig (of ongelukkig) nie ‘n vloek storie nie, die is ‘n Kaaimans groot vis storie…

My naweke as nat-agter-die-ore-snotkop-kind is spandeer tussen Wildernes en George, in die Kaaimans rivier mond. Ek het my dae om gespeel en om gevis in die swart rivier. Ons hengel gerei was maar primitief. Fokol blink katrol en grafiet stok van vandag nie, neewat ons moes maar ‘n ding hand lyn. ‘n Rol Maxima Marine Green lyn met eindgerei wat bestaan het uit ‘n lussie strop met ‘n silwer Mustad hoek en ‘n moer as sinker. As ons nie ‘n gestripte moer in die hande kon kry nie, het ons sommer ‘n ronde spoel klippie as sinker gebruik.

Aas was Kappers, of soos hul deesdae in mooi Afrikaans genoem word, modder krewels. Wie noem ‘n ding KREWEL? Dit klink soos iets wat jy in jou broek sal kry as jy te veel by die buurvrou kuier. As ek iemand sien krap of skuur aan die hoek wat saak maak, kan ek nie help om te dink dat daar dalk krewels in daai broek krieoel nie. Lees hoeka nou die dag dat “crabs” in Afrikaans platluis genoem word. Man moet seker maar eerder wegbly van ‘n muis met platluis!

Waar was ek? Oja, by “mud pawns”. Hul bly gewoonlik in modder banke en het U-vormige gate. Jy kry hul in die hande gekry deur ‘n leë apelkoos konfyt blik op ‘n gat te sit en dan hard daarop te trap. Dan spuit daar ‘n modder straal of drie in verskillende rigtings, gewoonlik saam met ‘n prawn of twee. Die aas makery was amper soveel pret as om in ‘n plas water te spring langs ‘n mooi netjies aangetrekte meisie met skoon wit sokkies.

Ons het vir ons elkeen ‘n hengel riet in die vlei gepluk en dan sny ons ‘n keep bo op die punt. Jy rol jou lyn af, sit jou prawn aan die hoek en met so “cowboy” swaai van jou arm skiet jy jou aas die swart water in. Dan steek jy die riet in die sand, druk jy jou tolletjie oor hom en span jou lyn deur die boonste gleuf in die riet. Ons het vele stompneuse en steenbrasse so gevang. Nou en dan ‘n Kabeljoutje of selfs ‘n Grunter, hulle was maar skaars daai jare.

 

Die een dag toe ons by die rivier kom was daar klaar ‘n paar manne besig om te hengel. Hulle het op plase in die omgewing gewerk en dit was hul af dag wat net een ding beteken het. Visvang en Vaaljapie! Nou Vaaljapie is wyn wat nog nie heetemal gefilter is nie en hyt ‘n manier om jou storm dom dronk te maak en jou die verskriklikste babbelas te gee (so lees ek…). Ons het sommer gepraat van ma-slat-ve-pa-wyn. Dis geen wonder die ou mense kon niks regkry met mense wat die vaal gif gedrink het nie.

Ons het net erwurms vir aas gehad en die gety het toe al redelik gestoot so daar was nie kans vir kappers trap nie. Gelukkig kon ons darem ‘n paar prawns by die locals ruil vir hoeke en los sigarette. Klaas het homself voorgestel en toe sy vrinne, Karools, Petrus en Skaamlip. Sy regte naam was Willem maar met die dat hy so sku was en nie ‘n woord gepraat het (as hy nugter was nie), het hulle hom Skaamlip herdoop.

Ons het stelling ingeneem so paar meter van hul af op die sand bank. Hulle was toe al reeds ‘n tydtjie aan die gang en het vir goeie vermaak gesorg. Dis altyd vir my snaaks om te sien hoe mense verander hoe meer wyn hulle vat. Skaamlip het aan die begin net gefluit, toe later ge-humm en toe sommer hardop begin sing. Dit het sommer vrolik gegaan! Was natuurlik ook hy wat die eerste P-bom gedrop het. Van skaamlip tot P-bom in drie slukke! Ironie 101… Die gevloek was nie verniet nie, hy het ‘n mooi vis hier teen sy voete verloor en die ding kon sy hele gesin kos gegee het.

Hulle het effe anders as ons gehengel. Hul het die lyn ingegooi dan die rol lyn in hul sak gedruk en met die lyn gespan oor hul wysvinger gewag vir ‘n byt. Maar Klaas was bietjie “cleverer” as die res van sy makkers. Hy het die lyn aan sy boonste hempsknoop vasgemaak sodat hy twee “free” hande gehet het. Een vir die kan wyn wat wat aan sy pinkie gehang het en die ander vir ‘n boxer zol wat hy met gister se koerant gerol het. So het hy half agteroor gestaan en hengel sodat hy nie vooroor val van gesypgeit nie.

Die volgende oomblik toe gryp daar ‘n ding sy aas, swem weg met ‘n wille vaart en pluk Klasie onderste bo, gesig eerste rivier in. Karools skree “o djirre, die wyn”! Petrus skree “aaaaaaaaaahhhh” (soos iemand wat bungy jump)! Skaamlip skree… niks, hys tjoepstil, nugter geskrik! “Hy kanie swem nie!” skree Karools by. Dit was ‘n taamlike gespartel vir so drie sekondes tot Klaas agter gekom het die water is net knie diep. Hoe die boxer zol nie nat geraak het nie is ‘n wonderwerk. Terwyl hy besig was om tot sy sinne kom het hy klaar begin dood sweer aan die sleg fokker wat hom ingestamp het.

Hy wou nog verder skel toe hy voel maar iets probeer hom dieper die water in trek. Hyt die kan wyn vir Karools gegooi en die lyn gevat. Ons het almal nader gestaan want aan die ander kant was iets vreesliks. Hyt die vis gebring stukkie vir stukkie maar dan raak sy hande te seer soos die lyn sy vingers gesny het en moes hy weer skiet gee. So deur die wyn walm deur het daar ‘n prewel gebetjie gekom “asseblief drarra ASSAMBLIEF! Die vis het gekom en dan weer omgeswaai en Klaas moes lyn gee want die ding was sterk en sy hande was stukkend.

Na ‘n gesukkel van ‘n goeie twintig minute was die blink vis in die vlak water en het Petrus op sy kniee gegaan en hom met bak arms geskep en netjies op die kant kom neerlê. Ons het almal in verwondering gestaar na ‘n reuse Steenbras wat op die sand klap! Ek weet nie wat hy geweeg het nie, maar dit was die grootste vis wat enige een van ons nog gesien het. Klaas het net daar langs die vis op sy gat gaan sit. Met sy hemp halfpad van sy lyf geskeur en vingers aan flarde het hy na die hemels beduie en “dankie djirre” gehyg. Hyt omtrent nie asem oor gehad nie, net genoeg vir ‘n lang teug wyn.

Willem Skaamlip se mond was oop maar geen klank wou uitkom nie. Kos vir ‘n maand skree Petrus! Karools het nader gestaan en met wonder van die vis gepraat “djarra ma dis mos ‘n kwaai vis die”!

Kwaai ja sê Klasie, Kwai…

020080-bruecke-wildnis
Kaaimans Rivier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s