Oom Tolla Van Der Merwe het altyd oor seesiek gesê, aan die begin dink jy jy gaan dood, maar aan die einde, wens jy jy gaan dood. Glo my, dit kan nie beter beskryf word nie, net die blote gedagte aan die nare aktiwiteit laat my bêk suur trek. Een oomblik dink jy nog jys “fine” en die volgende oomblik dan tref ‘n soort “dizzy” naarheid jou wat ek nie my grootste vyhand toewens nie.
So paar jaar gelede lê ek twee uur die oggend en rond rol. Ek kon nie slaap nie ek was net te opgewonde oor die dag wat voor my gelê het. Ek en ‘n pêl moes 4:00 opstaan om met ‘n boot op die see te gaan hengel by Mosselbaai. Ek’s nie vreeslik mal oor diep see hengel nie, juis oor my “siekte”. Jy sien ek kry die ergste seesiek wat jy kan “emagine”. Maar gelukkig (of ongelukkig) oorweldig die vis lus altyd die kots vrees by my . Ons het sommer die middag besluit more is dit so en van toe af was ek opgewonde en bewerig.
Ek kon nie wag om daai eerste blink lyf oor die boot se rand te trek nie en die nag het vrek lank gevoel. Maar uiteindelik kon ek darem my mond brand van haastig wees. Ek wou op die water kom en die koffie was warm, ons het hom toe maar so proe-proe, blaas-blaas af gegooi. Die bakkie is gepak en die boot gehak en amper vergeet ons nog die aas ook. Na ‘n lang gejaag was die boot uiteindelik op die water.
Ons het die see ingevaar met die koue sout lug wat ons neuse brand. Wind in die hare en jubbelend in die hart het ek Carike Keuzenkamp se “Bartolomeu Dias” ge-“humm” soos ons al verder van die land gevaar het. “Die matrose word boos, want hulle soek D…, Bartlomias Dias ons wil huis toe gaan”, o sorry dis die Lambertsbaai karavaan kamp weergawe!
So twintig minute later was ons op die hengelplek en ek het my handlyn laat sak. Die see was nie kalm nie en die vis het nou ook nie wat wonders gebyt nie. Ek’t altyd in my jeugdige snoek vang jare ondervind, as die vis loop weet jy van siek word niks. Maar sodra dit stil raak, dis dan dat die katte jou begin bekruip. Ek was nog so aan die “humm” toe my mond skielik begin kwyl.
Jou bek begin water, en dis nie omdat jy honger is en jy jou ma se skaapboud in die oond ruik nie, ooo neeeee! Dis omdat jou mond vir jou sê jy’s vyf minute weg van jag af. Jy gaan binnekort begin katte skiet! Ek het maar so gesluk-sluk aan die watertjies en gedink aan ander goed om my kop weg te hou van dit wat kom. Rondom my was die manne aan die gesels en die een vis storie na die ander het op my dowe ore geval. Ek was tjoepstil en hard aan die konsentreer, “mind over matter, mind over matter” en “Psalm 23, Psalm23” het ek herhaaldelik vir myself gesê.
Soms probeer ek sommer vir myself stories vertel om my kop besig te hou, en as dit nie werk nie sing ek vir myself. Probeer dit bietjie, dit help partykeer, maar vermy liedjies deur Gerrie Pretorius en Jurie Els. Hulle laat jou sommer op land kots, wat nog te sê van op die see. As jy gelukkig is raak die vis aan die byt en as jy jouself weer kan kry is dit als verby en jys oppad huis toe. Maar as die skuit aanhou skommel en die vis is nie honger nie, dan het jy probleme. Als was onder beheer en ek was nog so aan die smile oor iets wat ons die vorige dag aangevang het toe ek ‘n onwillekeurige suur windjie opbreuk.
As die burpies kom dan weet jy nou is dit naby. Ekt my lyn al hoe harder in my regterhand begin vasknyp en my linkerhand het die rand van die boot gewurg. Koue sweet het op my voorkop uitgeslaan en ek het amper beheer oor my “o” ring verloor oor ek so hard aan die bo kant probeer terug hou het. Jy probeer die windjies weg sluk maar dis nie maklik om aan iets te sluk wat proe soos ‘n skaaptjoppie wat met Engelse sout en gemaalde galsteen ge-“spice” is nie.
Ek’t ‘n dooie kyk in my oë ontwikkel en net so oor die see sit en staar. My lyf het onwillekeurig begin saam trek en al wat ek kon uit kry was, “dis nou onnodig”! “Wat nou?” wou my matroos makkers weet. Toe andwoord ek uit die donkerste diepte, “GEORGEEEE!” Dit was soos om ‘n brandkraan oop te draai!
Die begin is altyd die maklikste want jy het oorgegee. Daar is niks meer om voor te baklei nie want jy weet jy het klaar verloor. Jou knieë is lam, jou bene jellly en jy is nie meer lus vir die lewe nie. Ek’t met albei arms aan die boot se rand vasgeklou, die laaste suur in my bek uitgespoeg en gesien hoe my ingewande weg dryf. Jy voel sommer dadelik beter na die eerste paar skote want jou lyf dink hy is ontslae van die ewel wat jou so siek gemaak het. Maar dan hoor jy die onderduimse gegiggel van jou mede matrose, en die vernedering skop in want ‘n groot visserman mag mos nie seesiek raak nie.
Die giggels word opgevolg met kommentaar, “Blikkies maak darem nou mooi voerplek”, sê een man. “Wies George?”, vra die ander, gevolg deur ‘n lekker gelag! Later as almal sien jy is nou rêrig groen en in jou moer begin hulle jou jammer kry en dan kom die seerower raad. “Hy het iets in die maag nodig, gee hom ‘n lamoentjie”, sê een man. “Fok die lemoentjie”, dink ek, “gee my eerder ‘n pistool”! ‘n Uur gelede het ek met my arms uitgestrek in die boot se neus gestaan en soos Leonardo DeCaprio geskree, “I’m the king of the world!”, nou is ek die grap van Vasbyt (die boot se naam…). Vir vier en twintig uur was ek so opgewonde om see toe te kom jy kon met my toor, nou, ‘n uur later wil ek huistoe met alles wat ek oor het.
Die “beter” gevoel na die eerste sessie is van korte duur. Jou liggaam het gedink dis jou maag wat jou so siek maak en alles oorboord gegooi saam met jou ego. Maar dit het “obviously” nie gewerk nie, so hy probeer weer. Dis nou wat jy begin wens jy gaan dood want jy het niks meer om te gee nie, jys leeg. Nou hang jy net oor die boot want jy’t jou wil vir die lewe verloor en jy het “anyway” nie meer krag vir klou nie. Jou hele lyf gaan in ‘n onbeheerbare spastiese trekking van jou klein toontjie tot jou poertenjors, want nou, nou gaan jou liggaam jou reinig van alles wat onrein is! Jou oë voel of hul gaan uit pop en jou nek are bult asof jy ‘n body builder op roids is. Maar daar kom niks uit behalwe sulke vreesaanjaende bulk klankies en groen skuim nie.
Aan die begin het ek nog geworry oor my “plumber ass” as ek so gebukkend oor die boot klou, maar nou het ek ‘n veer gevoel. Alle inhibisie was verlore en saam met gisteraand se skaap in hulle se tjops! Aan my lip het so “lumenous” groen drel gehang. Gal, snot en trane het oor my gesig geloop maar ekt nie meer geworry nie. Ek het dit nie eers af gevee nie. Een van die manne het my aan die broek gegryp want hulle was bang ek val in die see. “Meanwhile, back at the ranch” wens ek ek val in want ek sal liewer ‘n swem vat saam met die anker as om nog gal te baar.
Ekt oor die boot gehang en so deur my glaserige oë gesien hoe ‘n skool harders lê en wag vir hul volgende “snacks”. Die een het so gebyt-byt aan ‘n suur stukkie long, maar kon homself net nie kry om te sluk nie. “WFT!”, het ek gedink, is dit nou die laaste ding wat ek gaan sien voor ek die lang leer klim, voor ek lepel in die dak steek. Terwyl “O Heer my God” in die agtergrond speel het ek teruggeval in die boot en net gelê. My lewe het voor my begin verby flits, my vrou, my ma en pa, Gabriel (ja, die engel). Met toe oë het ek DIE liggie gesien en met die laaste bietjie krag wat ek gehad het gewink na Gabriel, “kom maar eks reg”, het ek geprewel…
Gelukkig begin dit toe reën en Vasbyt se kaptein sê “kom ons gaan huistoe boys”! Dit was seker die mooiste woorde wat ek al ooit gehoor het. Ewe skielik kon ek weer my klein toontjie beweeg en toe my voete, bene, my hele lyf! Die lewe was besig om terug te kom. Terwyl heerlike druppels van vreugde my in die gesig gekielie het, het ek vir Gabriel met ‘n bewerige duim beduie, “dis ok tjomma, volgende keer, ek vat ‘n rain tjek”.
Toe ons uiteindelik weer op die vaste land kom vra Vasbyt se kaptein vir my, “kom jy more weer saam?”. “Natuurlik!”, het ek geandwoord. Ai, die vis lus wen altyd…

Ek word nie seesiek nie. Het van kleintyd saam my pa by Gourits uitgegaan op die boot. Maar dan khoooottts daai Transvalers so ‘n streep. Dan moet die skipper en sy mense nog net die rooi-aas uithaal en so in die lug rond swaai vir die reukie – hie hie hie
LikeLike
Hahaha, ons het meeste van die tyd op Kreef bakkies uitgegaan by Lamberstbaai, net as jy dink jy gaan die dag oorleef, dan waai daai swart diesel rook deur jou gesig…
LikeLike
Jinne, ek het nou gegil soos ek lag vir jou (ek dink die mense hier by die werk in die gang af dink ek is mal).
Dankie, my Maandag is gemaak!
LikeLiked by 1 person
Hahaha! Eks bly jyt dit geniet!
LikeLiked by 1 person