Stoomtrein

 

Ek onthou my eerste steenbras soos gister. Ek kon nie veel ouer as ses gewees het nie en ons het by Swartvlei onder die N2 brug gehengel. Dit was nog voor die opgraderings destyds en jy kon sommer net daar teen die pad stop, ‘n paar prawns (eks jammer maar ekt nog nooit die woord, sandkrewels, gebruik nie) pomp en ‘n gooi maak. Daar was baie vis daai dae en dit was sommer tjoef tjaf en jy het ‘n paar visse gehad vir die pan. Ek onthou eendag, wat die vis so dik was daar, dat ek die heeltyd my pa se stok moes vashou sodat dit nie in die water getrek word nie. Dit, terwyl hy besig was op die ander stok om vis op vis uit te trek!  Dit was meestal Kaapse Stompneuse, Steenbras en nou en dan ‘n kabeljoutjie, Grunters was maar skaars daai dae.

Op nog ‘n dag, ‘n paar jaar later, kon ek net stompneuse vang, hou vir hou was ek aan met ‘n Stompie. Maar soos jy weet, na ‘n rukkie raak man gatvol vir die kleintjies, veral as jou pa die een Steenbras na die ander uittrek. My pa het seker net gesorg dat hy ‘n groot genoeg voorsprong het (ons het nog altyd ‘n kompetisie aan die gang gehad), voor hy my bietjie raad gegee het. Die vaderlike instink was seker maar sterker as die kompeterende. Hyt gesê ek moet die kop van die prawn afbreek en net dit as aas gebruik. Ongelooflik, met die eerste gooi was ek vas. My blou Pick’n Pay stokkie het omtrent dubbel gevou soos ek die vis baklei het. Daar was nie veel van lyn gee nie, meer ‘n trek en katrol affêre.

Gelukkig het hy nie los gekom nie, en die prentjie sal verewig in my kop vas gebrand bly. Dit was die mooiste langwerpige silwer vis met so ‘n lang kop en tuit bêk. Oor sy lyf was donker grys, amper swart vertikale strepe en hy het so amper ‘n lig pienk-pers skynsel op sy rug gehad as jy hom in die son draai. Ek was in vervoering en bitter trots. Daarna het ek nog ‘n paar gevang maar daai eerste een was spesiaal!

Ons buurman op George was ‘n groot visterman! Kyk, ons het vis gaan vang, maar hy het vis gevang. Hyt ‘n paar keer kom “brag” by ons met sy groot visse, maar die een keer het hy sy seun oorgestuur met ‘n kombuisbord. Op die bord was ‘n Steenbras se kop. Ek lieg nie, die kop het ‘n hele bord vol gelê en oorgesteek aan die kante. Ekt my probeer indink hoe groot die ding was wat aan die anderkant van die trofee moes gewees het. Hoe was dit moontlik dat die kleinerige rivier vissies so enorm kon word. Ekt my verkyk en gedink, gewonder, gehoop, dat ek ook eendag dalk, SO een sal vang.

Soos ek ouer geword het, het ek die een Stywe Lyne na die ander verslint opsoek na artikels en stories oor visvang. Daar was een artikel wat gegaan het oor die “Stoomtreine van Struissbaai” wat altyd in my kop vasgesteek het. Hoekom het hulle die mooi langwerpige silwer vis ‘n Stoomtrein genoem? Het ek altyd gewonder.

Sy boek name is, Wit Steenbras of, “Pignose Grunter”, soos die Engelse hom noem. Sy byname sluit in Steenie, Bras, Piggy en Stoomtrein of “Steamer”, party manne praat sommer van ‘n Choo Choo! Die manne wat gelukkig genoeg was om hom al aan die lyn te kry sal jou vertel waar sy naam vandaan kom. Hys ‘n ongeskikte, hardegat boelie, wat jou aas gryp en weg swem met soveel krag en vaart dat jou broekie aan die bewe raak! En as jy nie reg staan nie, sweer hulle jy kan hoor hoe blaas die choo choo terwyl hy met jou eindgery wegswem, terwyl jy probeer om jou asem terug te kry…

Begin Julie verlede jaar het ons besluit om bietjie Witsand toe te gaan. Ek gaan altyd so aan oor die plek en met my swaer Johan en Anel wat nog nie daar was nie, het ons besluit om ‘n draai te gaan maak. Hy vang nie vis nie, maar is teenaan as dit by enige sosiale geleentheid kom, en wat is dan nou beter as ‘n naweek op ‘n “random” kusdorpie. Van ons ander vriende het vanaf George deurgekom en ons het almal baie uitgesien na ‘n heerlike naweek.

Tot Julie laasjaar was ek nog nooit in Witsand in die winter nie. Meestal omdat ons gewoonlik Kabeljou, Leervis en Grunters in die rivier jag en hulle is nie mal oor die koue winter water wat in die rivier is nie. Ons het vroeg die Vrydag oggend gery en ‘n stop gemaak by Dassiefontein vir swart koffie en vars brood. Met ons pense vol het ons die N2 aangevat en was seker so elfuur op Witsand. Dit was ‘n fantastiese winters dag sonder ‘n briesie in die lug.IMG_2137

Ek het dadelik die bakkie afgepak, my vrou ‘n klapsoen gegee en afgesit water toe. Moes natuurlik eers wag vir Johan wat ‘n paar koues wou pak, maar hy het darem vinnig op die hoeter reageer. Onder by die rivier het ek gou ‘n paar modder prawns gepomp, en gegooi. Niks het gebeur nie. Daar was nou nie eers ‘n plukkie aan die lyn nie om ‘n man opgewonde te kry nie. Gewoonlik in die rivier moet jy omtrent bont staan want die kleiner vissies maak jou mal. Al wat ek kon dink was dat dit die koue rivier water was.

‘n Tydjie later het daar ‘n vriendelike oom verby getap. Ons het ‘n lekker geselsie aangeknoop en hyt my vertel dat hulle vroër die jaar ‘n paar Steenbrasse voor die restaurant by die see gevang het. Hy sou egter voor by die gety poel gaan gooi omdat daar ‘n paar kabeljoue in die rondte was.

Die dag het na sy einde toe begin staan en met die ander makkers wat al klaar vuur aangesteek het, kon Johan nie wag vir sy kaptein skuimkop nie en het hy hulle gaan “help”. Ek het egter besluit om een laaste gooi te gaan maak voor die restaurant voordat ek gaan handjie by sit. Onder by die see was dit bitter mooi, die son was net onder en die bietjie wolke wat in die lug was het in briljante piek en pers begin verander. Dit was ‘n asem rowende toneel, wat enige iemand kan laat stoom afblaas.IMG_2145 - Copy

Met die laaste bietjie lig wat vinnig besig was om te verdwyn het ek haastig in die aas boks gekrap opsoek na ‘n asie om te gooi. Voor my was ‘n sloep oopgespoel, met ‘n sandbank aan die agterkant. Van wat ek gelees, en gehoor het was dit waar daar ‘n Steenbras behoort te skuil en met ‘n Steenie in gedagte besluit ek toe om die halwe stuk bloedwurm wat in my boks lê Op ‘n 2’o hoek te ryg.  Ekt ingestap en hard gegooi met die Exage 110H, maar kon net tot so halfpad in die sloep kom. Met my kleiner 9ft stokkie het ek nie ‘n kans gehad nie, so ek het hom ook maar net gegooi so vêr ek kon.

Na ‘n paar minute wat daar niks gebeur het nie, besluit ek toe om nog net een laaste gooi te maak. Nadat ek my stok uitgetrek het, het ek besluit om twee prawns bo oor die bloedwurm vas te draai. Ekt so effe ingestap en weer probeer om die sandbank te haal, maar kon nie. Die ander stok se aas het niks makeer nie en ekt hom sommer net so weer in gegooi. Terwyl ek terug stap kyk ek toe op na die bloedwurm stok…

Dit het kompleet gelyk asof iemand besig was om my vir ‘n gat te vat en hard aan my lyn pluk soos my stok se punt vorentoe geskied het. Toe kom die punt terug vir ‘n breekdeel van ‘n sekonde, en toe, skiet hy weer vorentoe en buig my stok behoorlik dubbel soos daai ding weg vlieg. My Torium het soos ‘n maer vark aand die skree geraak en die grrr grrr grrr was soos musiek in my ore. Ek het my ander stok neergegooi en so vinnig ek kon nader gehol.

Hulle sê jy kan aan ‘n vrou se hol sien hoe oud sy is… As sy vinnig hol is sy jonk en as sy stadig hol is sy oud! Nou laat ek jou vertel, ekt so vinnig soos ‘n 18 jarige Marion Jones op steriods gehol tot by my stok. Die adrenalien het ook teen die tyd ingeskop en eers nadat ek gesukkel het om my stok uit die pen te kry kon ek die ware drag van sake voel. Die katrol het nogsteeds geskree en ek kon voel aan die ander kant was iets met gewig. Ek kon nie die spoed van die vis glo nie, dis iets wat ek nog nooit ervaar het nie, my lyn het baie vinnig baie min geword.

Dit was vroeg aand en wyd koud buite, met die gevolg dat dit net ek op die Strand was, besig met die geveg van my lewe. Daar was niemand om te help, niemand om raad te gee, net ek en grommie aan die ander kant. Ewe skielik, asof die Grootbaas ‘n skakelaar oor gedruk het, het daar ‘n storm wind opgekom. ‘n Plat rustige see het in ‘n kwessie van ‘n minuut, ironies, in ‘n storm see verander. Wat vyf minute gelede ligte plonsies was, was ewe skielik drie meter hoë branders wat sarsie vir sarsie na my toe aangerol gekom het.

Die vis het gelukkig ophou lyn vat en geleidelik begin om links te swem. Omdat daar ‘n oopgespoelde rif en paar klippe in die vlakker water was het ek halflyf ingestap om so veel moonlik hoogte te kry sodat daar nie kans vir die vis was om my af te skuur nie. Ewe skielik het hy vinnig na my toe geswem en ekt gedink vir ‘n sekond hys af, toe hy draai en weer begin lyn vat. Dit was senutergend om die minste te sê. Gelukkig het ek ‘n bruin broek aangehad, want my knypers het my ‘n paar keer amper in die steek gelaat. Ekt geweet ekt iets groot aan, maar nie ‘n “clue” gehad wat dit was nie.

Intussen het my Torium 14 katrol besluit hys nie lus vir die marteling nie en sy remstelsel het die gees gegee. Jy kon hom, of heeltemal vas draai, of heeltemal los. Vas, was egter nie ‘n opsie nie, want ‘n Steenie het ‘n manier om soos ‘n vark teen jou voete om te swaai en met ‘n helse vaart weg te swem. Dis gewoonlik wanneer meeste mense hulle verloor, het hul in die Stywe Lyne geskryf. Ek moes dus my rem heel los draai en kon net lyn oprol sodra die vis na my toe swem of saam met ‘n brander nader spoel. Ek het ook my linker duim op die katrol spoel gesit om dit te beheer en lyn verlies tot die minimm te beperk.

Dit was ‘n kat en muis speletjie. Dan wen ek ‘n paar meter en dan wen hy ‘n paar. Maar geleidelik het ek meer lyn gewen. Met branders wat teen my bors breek het ek besluit om stadig agteruit te begin stap. Uit die water, en met die vis in die laaste vlak branders het hy op sy sy gedraai en ek kon ‘n vin sien… ‘n Vin het beteken dat dit ‘n vis was en ek het net daar, hardop aan die bid geraak. “Asseblief liewe Jesus, net die een, net die een, moenie dat hy afkom nie, asseblief!”

Toe draai hy weer en ek sien dis ‘n groot silwer vis. My kniee was lam, en my arms en bene het aan die bewe geraak. “Asseblief, asselief” het ek aanhou bid. Net soos vermoed, gaan hy toe op sy laaste stormloop. Ekt my duim net effe gelig en hom genoeg kans gegee om sy laaste asem uit te hardloop sonder om te veel stres op my gerei te sit.

Saam met ‘n brandertjie wat ingerol het, het ek stadig agteruit gestap en sodoende die vis tot in die vlak water gespeel. Toe daai laaste brander terug trek het net die silwer stuk vis agter gebly op die nat sand. Terwyl hy wanhopig nog ‘n paar klappe met sy stert gegee het, het ek vinnig nader gehardloop om hom op te tel. Eers toe ek by hom kom, kon ek sien wat dit was, ‘n “huge” Steenbras het voor my voete gelê. Net daar vergeet ek toe heeltemal dat ek nounet aan die bid was en skree kliphard “Goeie fok, dis ‘n moerse vis”! My eerste “Steamer” was op die wal, ‘n lewenslange droom was verwesenlik. Die grootte van die vis het letterlik my asem weggeslaan. Die ding was enorm en groter as enige iets wat ek nog in my lewe gesien het. Vir die eerste keer kon ek verstaan waaroor al die bohaai rondom die vis gegaan het.

Met die volgende stel branders wat oppad was moes ek hom vinnig gryp. Ekt my hand by sy kuie ingesteek en hom begin optel, amper slet ek toe nog neer ook van half ongebalanseerd verboureerd wees. Ek kon nie glo hoe swaar hy was nie! Hyt die skaal op 13kg getrek en dit was nog klein, daar is stories van Steenbras wat tot 30kg geweeg het.

Met die vis veilig op die wal het ek vinnig ‘n foto geneem en vir ‘n oomblik oorweeg om hom terug te sit, want so ‘n vegter het verdien om weer te swem. Maar wie sou my nou glo? En dalk was dit bietjie selfsug, of “brag”sug, maar ekt besluit om hom agter in die bakkie te laai en gaan af”show” by die huis. Soos jy kan dink was almal in vervoering oor die vis en ek moes die storie oor en oor vertel tot laat in die nag.

Die volgende dag loop ek toe in die oom vas wat ek die vorige dag ontmoed het. Ek vra toe vir hom: “Het oom toe iets gevang?” Hyt geandwoord: “nee”, en dat die weer nie reg was nie en die water te koud. Toe vra hy: “Het jy iets gevang?” Ek het my foon en foto uitgehaal vinniger as was jy kan sê… STOOMTREIN!

Groot vissie pappa
Groot vissie pappa
Beauty!
Beauty!
Lekke lippe
Soentjie
IMG_2625
Hyt meer as Heila geweeg

4 Comments

  1. Gary Haigh

    Witsand just remains a awesome fishing destination….awesome story and as good a catch. Would still like to know what the old man’s reply was on your pic of your catch. LOL. May you have many great catches … that make your “broekie bewe” LOL… Cheers and tight Lines

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s