Die Panty Bar

Kyk die tuin roete is mooi en al die verskillende wyn roetes in die Boland is lekker, maar nie een van hulle kan bottel vashou by die Weskus Panty Roete nie. Daar is nie offisieel so roete nie, maar daar kan net sowel wees want geen bar aan die weskus het nie ‘n panty of ‘n bra wat iewers hang nie. Die roete kan begin by Paternoster Panty Bar en eindig in Elandsbaai Hotel.

Van buite lyk die Panty Bar nie na veel nie maar stap jy in sien jy een groot poespas van deurtrekkertjies en onderkleure. Ek kan nooit help om te wonder oor die koekie, (of koek as jy so na die bloomer kyk) wat hul eens op ‘n tyd van die naakte waarheid beskerm het nie. Elke stukkie het ‘n storie. Die bar is half “scruffy” en ruik soos ‘n konkoksie van bokkoms, ou pyp rook en Olof Berg. Maar, die mense maak die plek, warm vriendelike mense! Dis asof hulle “happy go lucky” houdings en “good vibes” die hele kroeg kan aansteek. As jy eers gaan sit, staan jy nie gou weer op nie, en partykeer val jy sommer net daar om…

Wanneer die barman jou dop gooi is sy standaard grappie:”Hul sê mos ‘n panty is nes ‘n spietkop, altyd in die pad as jy haastig is… ” Maak nie saak hoe baie jy hom al gehoor het nie, lag nog steeds, dis net goeie maniere. Dis leeu wêreld die en as jy ongeskik is kry jy sommer maklik pak. Moet ook nie jou “panties in a knot” kry as jy die “PKD” woorde hoor nie, dis standaard weskus taal en word hier so gereeld gebruik soos ja en amen.

As ek so aan my brannas teug en na die dak staar (met ‘n toe bek) kan ek nooit help om te dink aan die storie van Fanus Rautenbach nie. Hy was so bietjie voor my tyd, maar hy was ‘n radio legende en is blykbaar gereeld geskors oor een of ander ding wat hy kwyt geraak het. Op ‘n dag is oom Fanus besig om versoeke te vat en daar bel ‘n meisie in met die naam Koekie Hall. Nadat hulle gegroet het en sy afgesny is sê oom Fanus: “Koekie Hall… hmmm, as sy buk kan jy seker haar naam en van sien!”

Ek is nou nie ‘n geskiedkundige nie, maar as ek dit reg het is die gebou waar die bar vandag is die ou tronk gewees wat toe ‘n bar geword het. Die panty versameling het toe al begin maar in die tagtigs is die hele versameling pantys afgetrek (letterlik) nadat een of ander dominee gemoan het oor die onsedelikheid daarvan. Die polisie man wat veranwoordelik was vir die reiniging van die bar staan blykbaar vandag nog as Panty Basson bekend.

So vertel oom Tolla ‘n storie van van die honeymoon couple wat op Paternoster kom vakansie hou het. Blykbaar het hulle op die strand gelê en tan toe ‘n klomp sand vlooie hulle pak. En, seg hy: “‘n vlooi het mos ‘n manier om na al wat ‘n donker plek is te vlug”, “geen kloof is veilig nie”, voeg hy by.

Met ‘n geskarrel en ‘n gespring het hulle tot by die kafeetjie langs die bar gevorder en al wat die man in die hande kon kry was ‘n blik Doom, “For crawling insects” nogal. Met die meisietjie wat krap en rondspring het haar man haar toe bespuit met die blik gif. Daar loop toe so opgeskote kreef smous verby, kyk die storie so en sê: “Kyk hie, djy moet nou nie iets dood spuit wat djy weer vannaand gaan nodig kry nie…”

Dana Snyman het ook ‘n storie geskryf oor ‘n ding wat een aand in die bar gebeur het. Ek kan ook nou nie al die details onhou nie, maar dit het afgespeel op ‘n stil (of sal ek eerder sê stiller as gewoonlik) Vrydag aand. ‘n Paar van die gesoute harde baard manne was nog besig om grappe en ou see stories te vertel toe ‘n mooi kind met ‘n sonbril op die kop, al huilende die bar in storm. Vol trane en gesmeerde makeup het sy haarself by die bar neergeplak en so tussen die snik deur ‘n G&T bestel.  Stilte het ewe skielik oor die remoer by die hoek tafeltjie gekom en almal het in die rigting van die swaeltjie met die gebreekte vlerkie gekyk. Sy was duidelik bitter ontsteld en een van die ooms besluit toe om hom oor haar te ontferm. Deels omdat sy ontsteld was maar ook omdat sy lekker was en sulke “geleenthede” kom nie aldag oor jou pad nie.

Hy het opgestaan, na haar gestap en met sy netjies gevoude sakdoek na haar beduie en gevra: “Wat is fout meisie?” Terwyl sy die sakdoek vat, andwoord sy: “Pardon?”

Skielik was dit dood stil want die oom het haar net met ‘n vaal verlate uitdrukking in die gesig geandwoord. Deels omdat haar sagte blou oë hom half verlam gelaat het maar ook omdat hy fokol engels kon praat. “Pardon me, excuse me?” het sy effe geirreteerd gevra. Brits was vir hom so vreemd soos ‘n mooi meisie en die twee gekombineerd het sy kreef bakkie heeltemal omgegooi. Om ‘n “chat” met haar te hê sou maar knor, maar hy het na elke engelse woord in sy kop gegryp en in elk geval probeer: “Are yous ok?”

Sy’t geandwoord: “Yes, No, Yes …….No!”. Aan die een kant wou sy nie met die wilde vreemde oom praat nie maar aan die anker kant het sy gesmag daarna om haar hart oop te maak. In haar opinie was hy net ‘n wulpse ou oomie wat haar probeer opchat het.  Volgens hom het sy, sy sakdoek vol snot geblaas en dit het hulle boesem vriende gemaak.

“What happen?” het hy weer probeer. Dis toe dat sy lostrek en begin praat, so dat hy haar later moes stil maak om nog ‘n G&T en ‘n vuil coke te bestel. Die aanhoudende gepraat het hom nie gepla nie, hy’t anyway net die helfte verstaan en hoe minder hy hoef te gesê het hoe beter. Met verskeie o’s en hmm’s het hy aandagtig die gesprek probeer volg.

Soos hy verstaan het was hulle ‘n paartjie van Bantry Bay wat op Paternoster was vir ‘n wegbreek naweek. Hulle het probleme gehad en was in die Weskus om dinge te probeer uitsorteer. Als het goed gegaan tot na die 2de bottel Chardonnay en toe raak hulle weer aan die baklei en hier sit sy nou. Haar “partner” was seker iewers op die strand…

Die oom wou rêrig help en het haar so gekyk en in sy gebroke Ingels gesê: “Meisietjie, if I was you, I would sorg that my kant is clean…”

Gaan maak ‘n draai, bestel ‘n vuil coke, drop ‘n P-bom en gooi jou Panty of jou bra (of jou panty en jou bra) teen die dak! When in Pater, do like the Nosters!

Cheers

Blik

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

‘n G&T by die Panty Bar!

 

2 thoughts on “Die Panty Bar

Leave a comment